Vergifnis (#3148)

Verheerlik sy U, o Here my God! Ek smeek U by U Uitverkorenes, en by die Draers van Wat U aan Hulle toevertrou het, en by Hom Wat U verorden het om die Seël van U Profete en U Boodskappers te wees, om U aandenking my deelgenoot te maak, en U liefde my oogmerk, en U aangesig my doel, en U naam my lamp, en U wens my begeerte, en U plesier my behae.

Ek is 'n sondaar, o my Here, en U is die Immer-Vergewende. Sodra ek U herken het, het ek my bespoedig om die verhewe voorhof van U vriendelike goedheid te bereik. Vergewe my, o my Here, my sondes, wat my verhinder het om in die weë van U welbehae te wandel, en om doe oewers van die oseaan van U eenheid te bereik.

Daar is niemand, o my Here, wat milddadig met my kan handel aan wie ek my gelaat kan wend nie, en geeneen wat medelye vir my kan hê dat ek sy genade mag afsmeek nie. Ek smeek U, werp my nie uit die teenwoordigheid van U guns nie, en weerhou ook nie die uitstortings van U vrygewigheid en milddadigheid van my nie. Beskik vir my, o my Here, wat U vir diegene wat U bemin beskik het, en skryf vir my neer wat U vir U verkorenes neergeskryf het. My blik was, te alle tye, op die horison van U genadige voorsienigheid gerig, en my oë op die hof van U tere genadighede. Handel met my soos dit U betaam. Geen God is daar behalwe U nie, die God van mag, die God van glorie, Wie se hulp deur alle mense gesmeek word.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vergifnis (#3149)

Ek is hy, o me Here, wat sy aangesig teenoor U gerig het, en sy hoop op die wonders van U genade en die openbaringe van U mildheid gevestig het. Ek bid U dat U nie sal duld dat ek teleurgesteld van die deur van U genade sal wegdraai nie, en my ook nie aan diegene van U skepsels wat U Saak ontken het, sal oorlaat nie.

Ek is, o my God, U dienaar en die seun van U dienaar. Ek het U waarheid in U dae herken, en het my voetstappe na die oewers van U eenheid gerig, bely U enkelvoudigheid, erken U eenheid, en hoop vir U vergifnis en kwytskelding. Kragtig is U om te doen wat U wil; geen God is daar behalwe U nie, die Alglorieryke, die Altyd-Vergewende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vergifnis (#3150)

U sien my, O my Here, met my aangesig na die hemel van U mildheid en na die oseaan van U begunstiging gewend, onttrek aan alles behalwe U. Ek smeek U, by die prag van die Son van U openbaring op Sinaï, en die luister van die Sfeer van U genade wat skyn uit die horison van U Naam, die Altyd-Vergewende, om my ontferming oor my te hê. Skryf neer, dan, vir my met U pen van glorie dit wat my deur U Naam in die wêreld van die skepping sal verhef. Helpy my, o my Here, om my na U in te stel, en om na die stem van U bemindes te luister, wat die magte van die wêreld gefaal het om van U te weerhou, en wat, na U vooruitgaande, gesê het: "God is onse Here, die Here van al dié wat in die hemel en wat op aarde is!"

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vergifnis (#3151)

Verheerlik sy U Naam, o my God en die God van alle dinge, my Glorie en die Glorie van alle dinge, my Begeerte en die Begeerte van alle dinge, my Sterkte en die Sterkte van alle dinge, my Koning en die Koning van alle dinge, my Besitter en die Besitter van alle dinge, my Doel en die Doel van alle Dinge, my Beweger en die Beweger van alle dinge! Laat my nie, ek smeek U, teruggehou word van die oseaan van U tere barmhartigheid nie, nòg ver verwyder wees van die oewers van nabyheid aan U nie.

Niks behalwe U, o my Here, baat my, en nabye toegang tot enigeen buiten Uself baat my niks nie. Ek smeek U by die oorvloedigheid van U rykdom, waarby U alles behalwe Uself agterweë gelaat het, om my by diegene te tel wat hulle aangesig na U gerig het, en opgestaan het om U te dien.

Vergewe, dan o my Here, U diensknegte en U diensmaagde. U is werklik die Altyd-Vergewende, die Mees Medelydende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vergifnis (#3152)

O U vergewende Here! U is die skuilplek van al hierdie U diensknegte. U ken die geheime en is bewus van alle dinge. Ons is almal hulpeloos, en U is die Magtige, die Alvermoënde. Ons is almal sondaars, en U is die Vergewer van sondes, die Barmhartige, die Medelydende. O Here, kyk nie na ons tekortkominge nie. Handel met ons volgens U genade en mildheid. Ons tekortkominge is veel, maar die oseaan van U vergifnis is grensloos. Ons swakheid is ernstig, maar die bewyse van U hulp en steun is duidelik. Bevestig en versterk ons derhalwe. Stel ons in staat om dít te doen wat U heilige Drumpel waardig is. Verlig ons harte, skenk ons skerpsinnige oë en aandagtige ore. Laat die dooies herlewe en genees die siekes. Verleen rykdom aan die armes en gee vrede en beveiliging aan die vreesagtiges. Neem ons op in U koninkryk en verlig ons met die lig van leiding. U is die Sterke en die Alvermoënde. U is die Vrygewige. U is die Sagte. U is die Goedige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

