Vergaderings (#3162)

O U barmhartige God! O U Wat magtig en kragtig is! O U die mees vriendelike Vader! Hierdie dienaars het bymekaar vergader en wend hulle na U, smeek U drumpel, begeer U eindelose mildhede vanuit U groot versekering. Hulle het geen voorneme behalwe U welbehae nie. Hulle het geen bedoeling behalwe diens aan die wêreld van die mensheid nie.

O God! Maak hierdie versameling luisterryk. Maak die harte barmhartig. Verleen die goedertoerenheid van die Heilige Gees. Bedeel hulle met 'n mag uit die hemel. Seën hulle met hemelse verstande. Vermeerder hulle opregtheid sodat hulle met alle nederigheid en berou na U koninkryk mag keer en besig sal wees met diens aan die wêreld van die mensdom. Mag elkeen 'n stralende kers word. Mag elkeen 'n skitterende ster word. Mag elkeen pragtig in kleur en welriekend van geur in die Koninkryk van God word.

O vriendelike Vader! Verleen U seënige. Neem nie ons tekortkominge in ag nie. Beskut ons onder U beskerming. Onthou nie ons sondes nie. Genees ons met U genade. Ons is swak; U is magtig. Ons is arm; U is ryk. Ons is siek; U is die Geneesheer. Ons is behoeftig; U is mees vrygewig.

O God! Skenk ons U voorsienigheid. U is die Sterke. U is die Gewer. U is die Liefdadige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Vergaderings (#3163)

O U vriendelike Here! Hierdie is U dienaars wat in hierdie vergadering bymekaar gekom het, na U Koninkryk gekeer het en behoefte het aan U skenking en seëning. O U God! Openbaar en maak die tekens van U eenheid duidelik wat neergelê is in al die werklikhede van die lewe. Onthul en ontvou die deugde wat U in hierdie menslike werklikhede verberg en versteek het.

O God! Ons is soos plante, en U mildheid is soos die reën; verfris en laat hierdie plante groei deur U skenking. Ons is U dienaars; bevry ons van die belemmerings van die stoflike bestaan. Ons is onkundig; maak ons verstandig. Ons is dood; maak ons lewendig. Ons is stoflik; bedeel ons met die gees. Ons is beroof; maak ons die vertrouelinge van U geheime. Ons is behoeftig; verryk en seën ons uit U grenslose skatkamer. O God! Wek ons op; gee ons siende oë; gee ons horende ore; maak ons vertroud met die verborgenhede van die lewe, sodat die geheime van U koninkryk in hierdie wêreld van bestaan aan ons mag blootgelê word en ons U eenheid mag bely. Elke skenking gaan van U uit; elke seëning is die Uwe.

U is magtig. U is kragtig. U is die Skenker, en U is die Altoos-Milddadige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Vergaderings (#3164)

O my God! O my God! Voorwaar, hierdie dienaars keer na U toe, en smeek U koninkryk van genade. Voorwaar, hulle is aangetrokke deur U heiligheid en gloeiend gemaak deur die vuur van U liefde, soek bevestiging van U wonderbaarlike koninkryk, en hoop op die bereiking van U hemelse ryk. Voorwaar, hulle verlang na die afdaling van U skenking, en begeer verligting van die Son van Werklikheid. O Here! Maak hulle stralende lampe, barmhartige tekens, vrugbare bome en skynende sterre. Mag hulle in U diens te voorskyn kom en met U verbonde wees met die bande en knope van U liefde, en verlang na die ligte van U begunstiging. O Here! Maak hulle tekens van voorligting, standaarde van U onsterflike koningkryk, golwe van die see van U genade, spieëls van die lig van U majesteit.

Voorwaar, U is die Vrygewige. Voorwaar, U is die Genadige. Voorwaar, U is die Kosbare, die Beminde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Vergaderings (#3165)

O U vergewende God! Hierdie dienaars wend hulle na U koninkryk, soekende na U genade en mildheid. O God! Maak hulle harte goed en suiwer sodat hulle U liefde waardig mag word. Reinig en heilig die geeste dat die lig van die Son van Werklikheid oor hulle mag skyn. Reinig en heilig die oë dat hulle U lig mag gewaar. Reinig en heilig die ore sodat hulle die roepstem van U koninkryk mag hoor.

O Here! Voorwaar, ons is swak, maar U is magtig. Voorwaar, ons is arm, maar U is ryk. Ons is die soekers, en U is die gesogte Een. O Here! Ontferm U oor ons en vergewe ons; verleen aan ons sodanige bekwaamheid en ontvanklikheid dat ons U gunste waardig mag wees en na U ryk mag aangetrokke word, dat ons van die lewenswater diep mag drink, met die vuur van U liefde aangesteek mag word, en in hierdie luisterryke eeu deur die asems van die Heilige Gees opgewek mag word.

O God, my God! Werp die blikke van U vriendelike goedheid op hierdie byeenkoms. Behou elkeen en almal veilig in U bewaring en onder U beskerming. Laat U hemelse seëninge op hierdie siele daal. Dompel hulle onder in die oseaan van U genade en verlewendig hulle deur die asems van die Heilige Gees.

O Here! Skenk U goedgunstige hulp en bevestiging aan hierdie regverdige regering. Hierdie land lê onder die beskuttende skaduwee van U beskerming en sy mense is in U diens. O Here! Verleen U hemelse mildheid aan hulle en maak die uitstortings van U genade en guns volop en oorvloedig. Laat hierdie hooggeagte nasie in eer gehou word, en stel dit in staat om in U koninkryk toegelaat te word.

U is die Magtige, die Alvermoënde, die Genadige, en U is die Vrygewige, die Liefdadige, die Here van oorvloeiende genade.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

