Standvastigheid (#3199)

O U Wie se nabyheid my wens is, Wie se teenwoordigheid my hoop is, Wie se aandenking my begeerte is, Wie se gloriehof my doel is, Wie se woonplek my strewe is, Wie se naam my genesing is, Wie se liefde die glans van my hart is, Wie sie diens my hoogste strewe is! Ek smeek U by U Naam, waardeur U diegene wat U herken het in staat gestel om na die verhewenste hoogtes van die kennis van U te sweef en dié wat U toegewyd aanbid in staat gestel het om op te styg na die omgewing van die voorhof van U heilige gunste, om my te help om my gesig na U gesig te wend, om my oë op U te rig, en om van U heerlikheid te praat.

Ek is die een, o my Here, wat alles behalwe U vergeet het, en my na die Daeraad van U genade gewend het, wat alles behalwe Uself verlaat het in die hoop om tot U voorhof te nader. Aanskou my dan, met my oë opgehef na die Setel wat skyn met die prag van die lig van U Aangesig. Laat daal dan op my, o my Beminde, dit wat my in staat sal stel om standvastig in U Saak te wees, sodat die twyfelinge van die ongelowiges my nie mag hinder om my na U te wend nie.

U is, voorwaar, die God van Krag, die Hulp in Gevaar, die Alroemryke, die Almagtige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Standvastigheid (#3200)

O God, my God! Ek het met berou na U gekeer, en voorwaar U is die Vryspreker, die Medelydende.

O God, my God! Ek het na U teruggekeer, en voorwaar U is die Ewig-Vergewende, die Genadige.

O God, my God! Ek het aan die koord van U mildheid vasgehou, en met U is die skatkamer van alles wat in die hemel en op die aarde is.

O God, my God! Ek het na U gehaas, en voorwaar U is die Vergewer, die Here van oorvloedige genade.

O God, my God! Ek dors na die hemelse wyn van U genade, en voorwaar U is die Skenker, die Milddadige, die Genadige, die Almagtige.

O God, my God! Ek getuig dat U U Saak bekend gemaak het, U belofte vervul het, en van die hemel van U genade dit laat daalhet wat die harte van U begunstigdes na U getrek het. Goed gaan dit met hom wat stewog aan U sterk koord vasgehou het en aan die soom van U luisterryke gewaad vasgekleef het!

Ek vra U, o Here van alle bestaan en Koning van die gesiene en die ongesiene, by U krag, U majesteit, en U soewereiniteit, om te gee dat my naam deur U pen van heerlikheid mag aangeteken word onder U toegewydes, hulle wat die boekrolle van die sondiges nie verhinder het om na die lig van U gelaat te keer nie, o gebed-horende, gebed-verhorende God!

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Standvastigheid (#3201)

O Here my God! Help U geliefdes om onwankelbaar in U Geloof te wees, om in U weë te wandel, om standvastig in U Saak te wees. Gee hulle U genade om die aanvalle van self en hartstog te weerstaan, en om die lig van goddelike leiding te volg. U is die Sterkem die Genadige, die Selfbestaande, die Skenker, die Medelydende, die Almagtige, die Algoedertierende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Standvastigheid (#3202)

Maak ons voetstappe stewig, o Here, in U weg, en versterk U ons harte in gehoorsaamheid aan U. Wend ons gesigte na die mooiheid van U eenheid en verheug ons boesems met die tekens van U goddelike eenheid. Versier ons liggame met die mantel van U mildheid en verwyder van ons oë die sluiers van sondigheid en gee ons die beker van U guns; dat die kern van alle wesens U lof voor die visioen van U grootheid mag sing. Maak Uself dan bekend, o Here, met U genadiglike uitspraak en die geheim van U goddelike wese, dat die heilige verrukking van gebed ons siele mag vul - 'n gebed wat bo woorde en letters sal styg en die geruis van lettergrepe en klanke sal oortref - sodat alle dinge in niks mag saamsmelt voor die openbaring van U prag.

Here! Hierdie is dienaars wat vas en stewig in U Verbond en in U Testament gebly het, wat vasgehou het aan die koord van bestendigheid in U Saak en aangekleef het aan die soom van die gewaad van U grootheid. Help hulle, o Here, met U guns, bevestig hulle met U krag en versterk hulle lendene in gehoorsaamheid aan U.

U is die Vryspreker, die Genadige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Standvastigheid (#3203)

O medelydende God! Dank su aan U want U het my wakker en bewus gemaak. U het my 'n siende oog gegee en my begunstig met 'n horende oor, en het my na U koninkryk en na U weg gelei. U het my die regte weg gewys en my die ark van bevryding laat binnegaan. O God! Hou my standvastig en maak my stewig en trou. Beskerm my teen geweldige toetse en behou en beskut my in die kragtig versterkte vesting van U Verbond en Testament. U is die Magtige. U is die Siende. U is die Horende.

O U die Medelydende God! Bestee aan my 'n hart wat, soos 'n glas, met die lig van U liefde mag verlig word, en verleen aan my gedagtes wat hierdie wêreld deur die uitstortings van hemelse genade in 'n roostuin mag verander.

U is die Medelydende, die Genadige. U is die Groot, Heilsame God.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

