Onderrig (#3204)

Geloof sy Y, o Here my God! Ek smeek U, by U Naam wat niemand passend geëien het, en wie se belangrikheid geen siel deurgrond het nie; ek smeek U, by Hom Wat die Fontein van U Openbaring is en die Daeraad van U tekens, om my hart 'n houer van U liefde en van aandenking aan U te maak. Bind dit dan met U allergrootste Oseaan saam, dat die lewende waters van U wysheid en die kristalstrome van U verheerliking en lof daaruit mag vloei.

Die ledemate van my liggaam getuig van U eenheid, en die hare van my kop verklaar die krag van U soewereiniteit en mag. Ek het by die deur van U genade met volkome terughoudendheid en algehele ontsegging gestaan, en vasgehou aan die soom van U goedertierenheid, en het my oë op die horison van U gawes gevestig.

Bestem U vir my, o my God, wat die grootheid van U majesteit betaam, en help my, met U versterkende genade, om U Saak só te verkondig dat die dooies uit hulle grafte mag spoed, en na U voortsnel, geheel in U vertrouende, met hulle blik gerig op die orient van U Saak en waar die lig van U Openbaring opgaan.

U is, voorwaar, die Allerkragtigste, die Allerhoogste, die Alwetende, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Onderrig (#3205)

Lof sy aan U, o Here van die wêreld en die Begeerte van die nasies, o U Wat in die Grootste Naam openbaar geword het, waardeur die pêrels van wysheid en uitspraak uit die skulpe van die groot see van U kennis te voorskyn gekom het, en die hemele van goddelike openbaring met die lig van die verskyning van die son van U gelaat versier is.

Ek smeek U, by daardie Woord waardeur U bewys onder U skepsels volmaak is, en U getuienis onder U dienaars vervul is, om U mense in dit sterk te maak waardeur die gelaat van die Saak in U gebied sal straal, die standaarde van U mag onder U dienaars geplant sal word, en die vaandels van U leiding oor al U gebiede opgehef sal word.

O my Here! U aanskou hulle omklem die tou van U guns en hou vas aan die soom van die mantel van U liefdadigheid. Beskik vir hulle dit wat hulle nader aan U mag trek, en hulle weghou van alles behalwe U.

Ek smeek U, o U die Koning van bestaan en die Beskermer van die gesiene en die ongesiene, om wie ook al opstaan om U Saak te dien, te maak soos 'n see wat deur U begeerte beweeg, soos een wat aan die brand is met die vuur van U Heilige Boom, en skyn uit die horison van die hemel van U wil. Voorwaar, U is die magtige Een, Wat nòg die krag van die hele wêreld nòg die sterkte van die nasies kan verswak. Daar is geen God behalwe U nie, die Een, die Overgelyklike, die Beskermer, die Selfbestaande.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Onderrig (#3206)

O God, Wat die Maker van alle Openbaarwordinge is, die Bron van alle Bronne, die Fontein van alle Openbaringe, en die Oorsprong van alle Ligte! Ek getuig dat deur U Naam die hemel van insig versier is, en die oseaan van uitspraak gegolf het, en die bedelings van U voorsienigheid bekend gemaak is aan die volgelinge van alle godsdienste.

Ek smeek U om my sodanig te verryk dat ek sonder alles behalwe U kan klaarkom, en onafhanklik van almal buiten U gemaak sal word. Laat reën dan op my uit die wolke van U mildheid dit wat my sal baat in elke wêreld van U wêrelde. Help my dan deur middel van U versterkende guns om U Saak só onder U dienaars te dien dat ek aan die dag mag lê wat sal maak dat ek onthou sal word so lank as U eie koninkryk sal duur en U heerskappy sal aanhou.

Hierdie is U dienaar, o my Here, wat hom met sy hele wese na die horison van U mildheid gewend het, en die oseaan van U guns, en die hemel van U gawes. Maak dan met my soos dit U majesteit betaam, en U heerlikheid, en U milddadigheid, en U genade.

U is, in der waarheid, die God van sterkte en krag, vir Wie dit passend is om diegene te verhoor wat tot U bid. Daar is geen God behalwe U nie, die Alwetende, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

