Genesing (#3153)

O God, my God! Ek smeek U by die oseaan van U genesing, en by die luister van die Dagster van U guns, en by U Naam waardeur U U diensknegte getem het, en by die deurdringende mag van U mees verhewe Woord en die krag van U mees grootse Pen, en by U genade, wat die skepping van almal wat in die hemel en op die aarde is, vooruitgegaan het, om my met die waters van U mildheid te suiwer van elke kwelling en aandoening, en van alle swakte en kragteloosheid.

U sien, o my Here, U smekeling wag by die deur van U mildheid, en hom wat sy hoop op U gesit het kleef vas aan die koord van U vrygewigheid. Ontsê hem nie, ek smeek U, die dinge wat hy soek van die oseaan van U genade en die Dagster van U vriendelike goedheid nie.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Genesing (#3154)

U naam is my genesing, o my God, en aandenking aan U is my geneesmiddel. Nabyheid aan U is my hoop, en liefde vir U is my metgesel. U genade aan my is my genesing en my steun sowel in hierdie wêreld as in die komende. U is voorwaar die Almilddadige, die Alwetende, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Genesing (#3155)

Geloof sy U, o Here my God! Ek smeek U by U Allergrootste Naam, waardeur U U dienaars opgewek het en U stede opgebou het, en by U voortreflikste titels, en U mees verhewe eienskappe, om U mense te help om hulle in die rigting van U menigvuldige mildhede te wend, en hulle aangesigte na die Tabernakel van U wysheid te rig. Genees U die siektes wat die siele aan elke kant aangeval het, en hulle teruggehou het om hulle blik te rig na die Paradys wat in die beskutting van U oorskaduende Naam lê, wat U beskik het om de Koning van alle name te wees van almal wat in die hemel is en almal wat op aarde is. STerk is U om te handel na U welbehae. In U hande is die ryk van alle name. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Magtige, die Wyse.

Ek is maar 'n arme skepsel, o my Here; ek het aan die soom van U rykdom vasgeklem. Ek is swaar siek; ek het aan die koord van U genesing vasgehou. Bevry my van die kwaad wat my omring het, en was my deeglik met die waters van U goedgunstigheid en genade, en kleed my met die gewaad van heilsaamheid, deur U vergifnis en mildheid. Vestig, dan, my oë op U, en verlos my van alle gelegtheid aan enigiets behalwe Uself. Help my om te doen wat U begeer, en te vervul wat U behaag.

U is waarlik die Here van hierdie lewe en van die aankomende. U is, in der waarheid, die Altoos-Vergewende, die Barmhartigste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Genesing (#3156)

Glorie sy aan U, o Here my God! Ek smeek U by U Naam, waardeur U die vaandels van U leiding omhoog gehef het, en die glans van U vriendelike goedheid uitgestraal het, en die oppermag van U Heerskappy bekend gemaak het; waardeur die lamp van U name binne die nis van U eienskappe verskyn het, en Hy Wat die Tabernakel van U eenheid en die Openbaring van afgetrokkenheid is, voortgeskyn het; waardeur die weë van U leiding bekend gemaak is, en die paaie van U welbehae afgemerk is; waardeur die fondamente van afwyking laat bewe is, en die tekens van slegtigheid afgeskaf is; waardeur die fonteine van wysheid uitgebars het, en die hemelse tafel daal is; waardeur U U dienaars bewaar het en U genesing toegestaan het; waardeur U U barmhartighede aan U dienaars bewys het en U vergifnis onder U skepsels bekend gemaak het - ek smeek U om hom veilig te bewaar wat vasgehou het en na U teruggekom het, en U genade omklem het, en die soom van U liefderyke voorsorg gegryp het. Laat dan U genesing op hom daal, en maak hom heel, en beklee hom met 'n standvastigheid deur U vergun, en 'n gerustheid deur U hoogheid verleen.

U is, voorwaar, die Geneser, die Bewaarder, die Helper, die Almagtige, die Kragtige, die Alglorieryke, die Alwetende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

