Eenheid (#3217)

O my God! O my God! Verenig die harte van U dienaars en openbaar aan hulle U groot voorneme. Mag hulle U gebooie volg en in U wt berus. Help hulle, o God, in hulle strewe, en gee hulle sterkte om U te dien. O God! Laat hulle nie alleen staan nie, maar lei hulle voetstappe met die lig van U kennis en verbly hulle harte met U liefde. Voorwaar, U is hulle Helper en hulle Here.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Eenheid (#3218)

O my God! O my God! Voorwaar, ek roep aan en smeek U voor U drumpel, en vra U dat al U barmhartigehede op hierdie siele mag neerdaal. Onderskei hulle vir U guns en U waarheid.

O Here! Verenig en bind die harte saam, bind al die siele saam in ooreenstemming, en verfris die geeste deur die tekens van U heiligheid en eenheid. O Here! Maak hierdie gesigte stralend met die lig van U eenheid. Versterk die lendene van U dienaars in die diens van U koninkryk.

O Here, U die besitter van oneindige genade! O Here van vergifnis en van kwytskelding! Vergewe ons sondes, skeld ons tekortkominge kwyt, en maak dat ons ons na die koninkryk van mag en sterkte aan roep, nederig voor U heiligdom en onderworpe voor die heerlikheid van U bewyse.

O Here God! Maak ons soos golwe van die see, soos blomme van die tuin, verenig, in samestemming deur die mildhede van U liefde. O Here! Swel die borste uit deur die tekens van U eenheid en maak die hele mensdom soos sterre wat skyn uit dieselfde hoogte van heerlikheid, soos volmaakte vrugte wat groei aan U boom van die lewe.

Voorwaar, U is die Almagtige, die Selfbestaande, die Skenker, die Vergewer, die Kwytskelder, die Alwetende, die Een Skepper.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

