Bystand (#3131)

My God, my Vereerde Een, my Koning, my Begeerte! Watter tong kan my dank aan U te kenne gee? Ek was agteloos, U het my opgewek. Ek het van u weggedraai, U het my genadiglik gehelp om na U toe te draai. Ek was soos een wat dood was, U het my met die lewenswater verkwik. Ek was verlep, U het my opgewek met die hemelse stroom van U mededelinge wat van die Pen van die Algenadige uitgevloei het.

O Goddelike Voorsienigheid! Alle betsaan is deur U mildheid voortgebring; ontneem dit nie die waters van U vrygewigheid nie, onthou dit ook nie oseaan van U genade nie. Ek smeek U om my te alle tye en onder alle toestande te steun en te help, en soek uit die hemel van U genade U oue guns. U is, in der waarheid, die Here van mildheid, en die Opperheer van die koninkryk van die ewigheid.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Bystand (#3132)

O U Wie se aangesig die oogmerk van my huldiging is, Wie se prag my toevlugsoord is, Wie se woning my doel is, Wie se roem my hoop is, Wie se voorsiening my metgesel is, Wie se liefde die oorsaak van my bestaan is, Wie se melding my troos is, Wie se nabyheid my begeerte is, Wie se aanwesigheid my dierbaarste wens en hoogste strewe is, ek smeek U om nie daardie dinge wat U beskik het vir die uitverkorenes onder U dienaars van my te weerhou nie. Voorsien my dan van die goeie dinge van hierdie wêreld en van die aankomende.

U is waarlik die Koning van alle mense. Daar is geen God behalwe U nie, die Altyd-Vergewende, die Vrygewigste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Bystand (#3133)

Here! Armsalig is ons, verleen ons U guns; arm, skenk ons 'n gedeelte van die oseaan van U rykdom; behoeftig, bevredig ons; vernederd, gee ons U luister. Die voëls van die lug en die diere van die veld ontvang elke dag hulle voedsel van U, en alle skepsels neem deel aan U versorging en U vriendelike goedheid.

Ontneem nie hierdie swak een U wonderbaarlike genade nie, en vergun deur U mag U goedertierenheid aan hierdie hulpelose siel.

Gee ons ons daaglikse brood en skenk U aanwas in die behoeftes van die lewe, sodat ons van niemand anders as U mag afhang nie, geheel en al met U mag gemeenskap hê, in U weë mag wandel en U verborgenhede mag bekend maak. U is die Almagtige en die Liefhebbende en die Voorsiener van die hele mensdom.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Bystand (#3134)

Verwyder nie, o Here, die feestelike tafel wat in U naam gesprei is nie, en doof nie die brandende vlam uit wat deur U onuitblusbare vuur aangesteek is nie. Weerhou nie die vloei van daardie lewende water van U wat ruis met die melodie van U heerlikheid en U aandenking nie, en ontneem nie U dienaars die welriekendheid van U soet smaaklikhede wat die geur van U liefde uitadem nie.

Here! Verander die angstige sorge van U heiliges in rustigheid, hulle swaarkry in gemak, hulle vernedering in aansien, hulle droefheid in geluksalige vreugde, o U Wat die teuels van die hele mensdom in U hande hou!

U is, voorwaar, die Een, die Enigste, die Magtige, die Alwetende, die Alwyse.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

