Beskerming (#3174)

Geloof sy U, o Here my God! Hierdie is U dienaar wat uit die hande van U genade die wyn van U tere barmhartigheid gedrink het, en die geur van U liefde in U dae geproe het. Ek smeek U by die verpersoonlikings van U name wat geen leed kan verhinder om bly te wees in U liefde, of om op U aangesig te tuur nie, en wat al die skares van die agtelosiges magteloos is om af te wend van die weg van U behae, om hom van die goeie dinge te voorsien wat U besit, en hom tot sodanige hoogtes op te hef dat hy die wêreld as 'n skaduwee sal betrag wat vinniger as 'n oogwink verdwyn.

Beveilig hom ook, o my God, deur die krag van U onmeetbare majesteit, teen alles wat U verafsku. U is, voorwaar, sy Here en die Here van alle wêrelde.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Beskerming (#3175)

O God, my God! Ek het my huis verlaat, hou vas aan die koord van U liefde, en het myself geheel en al toevertrou aan U sorg en U beskerming. Ek smeek U by U mag waardeur U U geliefdes beskerm het teen die eiesinniges en die eiewysiges, en teen elke weerbarstige verdrukker en elke goddelose wat ver van U afgedwaal het, om my veilig te behou deur U goedertierenheid en U genade. Stel my dan in staat om na my huis terug te keer deur U krag en U mag. U is waarlik die Almagtige, die Hulp in Gevaar, die Selbestaande.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Beskerming (#3176)

Geloof sy U, o Here my God! U sien en weet dat ek 'n beroep op U dienaars gedoen het om nêrens behalwe in die rigting van U skenkings te keer nie, en hulle gevra het om niks behalwe die dinge wat U in U duidelike Boek voorgeskryf het na te kom nie, die Boek wat neergestuur is volgens U ondeurgrondelike verordening en onherroeplike doeleinde.

Ek kan geen woord uiter nie, o my God, tensy ek deur U toegelaat word nie, en kan in geen rigting beweeg voordat ek U goedkeuring verkry nie. Dit is U, o my God, Wat my deur die vermoë van U mag in die lewe geroep het, en my van U genade voorsien het om U Saak te openbaar. Daarom is ek aan sodanige teenspoede onderworpe dat my tong verhinder is om U te verheerlik en om U glorie groot te maak.

Alle lof sy aan U, o my God, vir die dinge wat U vir my beskik het deur U verordeningen deur die krag van U oppermag. Ek smeek U dat U albei myself en diegene wat my bemin, in ons liefde vir U sal versterk, en ons standvastig in U Saak sal hou. Ek sweer by U mag! O my God! U dienaar se skaamte is om soos 'n sluier van U uigesluit te wees, en sy glorie is om U te ken. Gewapen met die krag van U naam, kan niks my ooit seermaak nie, en met U liefde in my hart kan die hele wêreld se kwellinge my hoegenaamd nie laat verontrus nie.

Laat daal dus, o my Here, op my en op my bemindes dit wat ons sal beskerm teen die onheil van diegene wat U waarheid ontken en het en nie in U tekens geglo het nie.

U is, voorwaar, die Alglorieryke, die Mees Goedertierende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Beskerming (#3177)

Verheerlik sy U Naam, o Here my God! Ek smeek U by U Naam waardeur die uur aangebreek het, en die Opstanding gekom het, en vrees en bewing almal wat in die hemel en op die aarde is bevang het, om te laat reën, vanuit die hemel van U genade en die wolke van U tere ontferming, dit wat die harte sal verheug van U dienaars wat na U gekeer het en U Saak gehelp het.

Hou U diensknegte en diensmaagde veilig, o my Here, teen die pyle van ydele inbeeldings en nuttelose verbeeldinge, en gee hulle met die hande van U genade 'n sluk van die saggies vloeiende waters van U kennis.

U is waarlik die Almagtige, die Mees Verhewe, die Altyd-Vergewende, die Mees Vrygewige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Beskerming (#3178)

O God, my God! Beskut U vertroude dienaars teen die euwels van self en hartstog, verdedig hulle met die wraaksame oog van U vriendelike goedheid teen alle wrok, haat en afguns, beskerm hulle in die onneembare vesting van U sorg en, veilig teen die pyle van twyfelagtigheid, maak hulle die openbarings van U glorieryke tekens, verlig hulle gelate met die glansende strale wat uit die Daeraad van U goddelike eenheid gestort word, verbly hulle harte met die verse wat uit U heilige koninkryk bekend gemaak is, versterk hulle lendene met U alles-beheersende krag wat van U ryk van heerlikheid kom. U is die Almilddadige, die Beskermer, die Almagtige, die Goedgunstige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Beskerming (#3179)

O my Here! U weet dat die mense omring is met smart en rampe, en omsingel is met swaarkry en sorge. Elke beproewing val die mens aan en elke ontsettende teenspoed tref hom soos die aanval van 'n slang. Daar is geen skuilplek en toevlugsoord vir hom behalwe onder die vlerk van U beskerming, bewaring, bewaking en sorg nie.

O U die Genadige Een! O my Here! Maak U beskerming my wapenrusting, u Bewaring my skild, nederigheid voor die deur van U eenheid my wag, en U bewaking en verdediging my vesting en woning. Behoed my teen die ingewinge van self en begeerlikheid, en bewaar my teen elke siekte, toets, moeilikheid en beproewing.

Voorwaar, U is die Verdediger, die Beskermer, die Bewaarder, die Voldoener, en voorwaar, U is die Barmhartige van die Mees Barmhartiges.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

