Aand (#3145)

O my God, my Meester, die Doel van my begeerte! Hierdie dienskneg van U verlang om te slaap in die skuiling van U ontferming en te rus onder die dak van U genade, smekend om U sorg en U beskerming.

Ek smeek U, o my Here, by U oog wat nie slaap nie, om my oë te behoed dat hulle niks buiten U sien nie. Vertsterk dan hulle visie sodat hulle U tekens mag gewaar, en die Horison van U Openbaring aanskou. U is Hy voor Wie se openbaringe van alvermoë die beliggaming van mag gesidder het.

Daar is geen God behalwe U, die Almagtige, die Alles-Onderwerpende, die Oneindige en Ewige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Aand (#3147)

O soeker van die Waarheid! As u verlang dat God u oog mag oopmaak, moet u God smeek, Hom aanbid en met Hom middernagtelike gemeenskap hê, en sê:

O Here, ek het my aangesig na U koninkryk van eenheid gekeer en is verdiep in die see van U genade. O Here, verlig my oë deur U ligte in hierdie donker nag te aanskou, en maak my in hierdie wonderike gety gelukkig deur die wyn van U liefde. O Here, laat my U roepstem hoor, en maak die deure van U hemel voor my aangesig oop, sodat ek die lig van U glorie mag sien en na U prag aangetrek mag word.

Voorwaar, U is die Skenker, die Vrygewige, die Barmhartige, die Vergewende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Aand (#3146)

Hoe kan ek verkies om te slaap, o God, my God, terwyl die oë van diegene wat na U verlang slapeloos is vanweë hulle afsondering van U; en hoe kan ek my neerlê solank die siele van U liefhebbers swaar gekwel is in hulle afgeleënheid van U aanwesigheid?

Ek het, o my Here, my gees en my hele wese in die regterhand van U mag en U beskerming toevertrou, en deur U krag lê ek my kop op my kussing neer en hef dit op volgens U wil en U welbehae. U is, in der waarheid, die Behouer, die Bewaarder, die Almagtige, die Kragtigste.

By U mag! Of ek slaap of wakker is, vra ek niks anders as wat U verlang nie. Ek is U dienaar en in U hande. Help my genadiglik om dit te doen wat die geur van U welbehae sal uitstraal. Dit is in die werklikheid my verwagting van diegene wat nabye toegang tot U geniet. Geloof sy U, o Here van die wêrelde!

-Bahá'u'lláh
-----------------------

